Eye to eye
My Jack Russel, Handsome, sleep my elke dag De Waal-park toe. Met die terugkom dink ek soos soveel kere vantevore: “ek wens ek sien vandag die gesig wat ek langs die geskilderde portretstudie op die een muur van ’n galery in Gardens.” Die gesig is deur ‘n T. Auret geskilder en bestaan uit alle hale van turkoois, bloue, gele, swarte – dit trek snaaksgenoeg op ’n studie wat Van Gogh sou verf. Al verskil is die karakters – dis nie die meester se Postman nie, maar eerder ’n bekende swerweling en straawandelaar in Gardens. Sy naam is Romeo.
So stap ek tot by Griet. Griet is Gardens se hoofmeisie straatsitter of “bergie” soos jy hulle vroeër sou noem.
Ek en Griet noem mekaar op die voornaam. Ons vertel vir mekaar ons koppies seer is van die vorige aand se gefuif. “Ek was weer dikdronk gisteraand gewees,” sê sy. ’n Vrou het uit Villa Tavern gekom en drie kleinbotteltjies Drosday-wyne vir my gegee.”
Vandag staan hier ’n ander man by Griet en haar partner. “Griet weet jy nie wie die man op die muur is nie.”
“Ek doen, hier staan hy voor jou,” sê sy.
En wragtig, ’n vloekskoot. Ek wag al lank om die einste man met die sielvolle oë vas te trek. Die kusntenaar het ’n goeie job gedoen om die man se siel in sy oë te skilder. Vandag wil ek regtig sien wie agter die oë skuil.
En hier staan Romeo voor my. Hy het ’n hoed op, sy swart baadjie is vuil, maar dit lyk of die maan se glinter in sy oë sit.
“Romeo, ek moet die foto van jou kry. Sal jy seblief vir my loop staan by die portret. Ek soek jou al so lank, waar was jy al die tyd.”
Romeo stotter so effe. “Ek swerf maar. Dan is ek hier, dan Seepunt, dan Mitchells Plain. Nou is ek weer hier.”
Romeo vertel dat die kunstnaar so drie jaar gelede ’n foto van hom geneem en geskilder het. Hy wat Romeo is, was selfs by die opening van die uitstalling.
“Ek dink nogal dit lyk soos ek. Dis net ’n jonger weergawe. Die lewe op straat maak mens maar by die dag ouer,” sê hy.
Romeo loop roep die sekruriteitswag om die hek oop te maak. Ek kliek hom van alle kante teen die “groot gesig”. Op ’n stadium draai hy om, en kyk homself in die oë.
Ek moet bieg, op daardie oomblik het ek gewonder wat hy deur sy kop gaan. Wie sien hy? Kan hy homself in die oë kyk?
Die I to I is dalk makliker om te ignoreer as die eye to eye. Want soms as jy met jouself praat luister jy nie. Maar as Romeo vir jouself kyk en die groot portret met poelblou oë en blink pupille kyk terug, wonder ek hoe sien hy homself? Sien hy homself as Gardens se “celebrity” of die outie wat lank genoeg street cred opgedoen het om ’n straatster te wees.
Mag sy faam aanhou brand, soos die kleur van hoop in sy oë.
Comments