New York het Central Park, Amsterdam vir Vonkelpark. Barcelona het die Park de Guell, Johannesburg het die mooie Emmarentia. Kaapstad het De Waal Park as ’n groen vriend. Vanoggend stap ek deur die tuinhekkie en oudspringbokkaptein, Morne du Plessis, groet vriendelik. ’n Werker in die park sê: “dis mos Morné daardie.” Ek knik en sê ja, hy bly net om die hoek. Die bergies of tuinslapers ontwaak. Hulle trek hulle lae klere uit na hulle ’n koue nat nag moes trotseer. Ander slaap nog met hulle donkerbrille aan. Die honde hardloop reguit om te sien wat die bergies in hulle sakke het. ’n Rykmansvrou baklei omdat haar hond ’n visgraat uit ’n plastieksak geëet het. Die bergie sê toe: "mevrou, mevrou moet jou hond aan ’n leash sit.” Toe bars alle hel uit, want eintlik is die park mos vir ons vierpotige vriende. Dit was oorlog. Handsome, my Jack Russell, pyl eerder op ’n boom af. Hy leef om die gryseekhorings te jaag. Hulle speel kat en muis soos die eekhoring al om die boom op en af spiraal, net om na ’n ander boom te spring. Wat Handsome nie weet nie is dat die gryseekhoring al langer in die Kaap is as hy. Hulle kom van Noord-Amerika, hy van Potchefstroom. Die vader van kolonialisme Cecil Rhodes het hulle met die draai van die 19de eeu ingevoer en nou verfraai hulle ons parke en kompanjetuine. Hondestappers, mamma’s, babaoppassers, werkers, poefoptellers, bergies almal beweeg ritmies onder die berg. Tennisspelers kan nie vandag die nabye bane benut nie. Dit reën in die Kaap. As dit nie reën nie, bly dit bewolk genoeg om die gevoel van reën te gee. Dis moeiliker om in die oggend op te staan, die stad is donker van die berg se skadu en minder fel son. Dit is tyd om stiller en rustiger te word, al wag die duur stad nie vir jou nie. Maar as jy jou dier by jou het, maak geld nie saak nie. Dan voel enige plek soos ’n groen park. Met hom is die stad ook meer my vriend.
Griet en haar partner bly al vir twaalf jaar in Gardens. Hulle baklei dat die stof staan, maar slaap saans warm teenmekaar. Alles gebeur in Gardens op my pad terug en van De Waal- park. #dewaalpark #marzahnbothaphotography #touristguide #mizanitours #peoplephotography #people #ordinarypeople #bergies #ilovepeople #peopleinplaces.
Yorumlar